Die meeste sterre is lankal dood is die bekroonde digter Johann de
Lange se dertiende bundel. Dit bestaan uit ses afdelings, deurgaans
gewy aan vlietende oomblikke vasgevang in ‘n vers (“om met woorde
die onsegbare te sê”). Die bundel het ‘n elegiese toonaard, en word
oorheers deur ‘n bewustheid van verlies & verganklikheid, van
“inskaduwings van die lig”. Verse oor die skryfproses figureer as
teenvoeter vir die verbygaande aard van mens wees. Dit is verse vir
“my mooi dooies”. In “Oggendmusiek” beskryf die digter ‘n
vroegoggendkoor van voëls voor sonsopkoms, elders ‘n koorddanser,
voetjie vir voetjie oor die spantou. Soos in sy vorige werk is die
erotiese verse ‘n hoogtepunt in die bundel, bv in “Ode aan die mielie”:
“Nét so, nog aan die oggend – tussen die syige bene van die dag –
staan hy, volryp, pittig & reg.”
Bloed & sneeu
Bloed op sneeu is ’n pasgebore rooi,
van iets gewond, ’n struikelende spoor.
En die sneeu? Is daar énigiets so mooi,
so prilwit gespits, as ’n haseoor?
Oor die skrywer
Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Sy
debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy vierde bundel, Wordende naak, word in 1990 met
die Rapportprys vir Poësie bekroon. Die algebra van nood, wat in
2009 verskyn het, is in 2011 met die Hertzogprys bekroon.